Vandat ek gister wakker geword het, was ek lus vir "oorlog". Toe ek eers deur die slaap oor my man se skoene val wat langs MY kant van die bed is, toe is ek eers wild! My toonnael het na die episode gelyk soos 'n ruimtetuig wat "gelaunch" staan, reg om maan toe te gaan. Nege ander is 'n pragtige helder oranje, die tiende een is....wel nie meer daar nie.
Ons is vroeg op want ons gaan vir die eerste keer na ons seuntjie 3 maande terug gebore is, kerk toe. NET toe alles gepak en gelaai is, hoor ek iets wat baie klink soos 'n naar baba....Om 'n lang storie kort te maak, die afkondigings is gedoen, die "praise en worship" is al vergete en die tiendes is opgeneem, toe stap ons by die VOORSTE deur in. Ons ken nie die kerk nie, ek sou eers na die tyd sien daar is so sy-deurtjie waarby jy in kan glip. Doeksak oor die skouer, baba in sy karstoeltjie en stootkarretjie....Dan praat ek nie eers van my handsak en Bybelsak wat ook deel van die GROOT TREK was nie...Gelukkig kry ons plek (die laaste 2 sitplekke) agter in die hoek, want sien, Pietersburg is 'n baie vrugbare plek kom ek toe agter...Daar is HORDES babas...(maar dis 'n storie vir 'n ander keer..)
Dis ook toe dat die pastoor besluit hy gaan (LANK) bid. Onder gebed word boetie wakker en besluit hy gesels saam. Ek moet toe baie vinnig na 'n moederskamer gaan soek. In die moederskamer kom sit 'n spul ander vrouens toe ook later. Intussen kan jy die preek op gerieflike grootskerm tv's volg. Die klank is nie so vars nie. Dit klink soos my oupa se draadloos wat nie mooi op stasie is nie. Sal die twee vrouens nie hier naby my 'n PIEKNIEK vir hul kinders uitpak, dit lyk soos "high-tea" by die Queen. Hulle begin toe gesels oor die nuwe prentjies op hul kinders se "nappies". Kan hulle nie sien die res van ons probeer die preek luister. (Nou moet jy onthou, ek het lus vir oorlog op gestaan...) Ek gryp toe later die doeksak en vra so ewe of hulle nie 'n huis het om by te kuier nie. Hul was so "geskok" OF hulle kon die "oorlog" op my gesig sien, hulle het nie 'n woord na dit gepraat. Piekniek is toe ook sommer opgepak...en ek het weer in die kerk gaan sit.
Na badtyd' later die aand, rig ek toe 'n vriendelike versoek aan my man (eintlik meer 'n ligte waarskuwing, want ek ken mos my plek...) "Liefie, sal jy asb jou skoene wat al die hele naweek langs my kant van die bed le, bietjie optel en in jou kas sit. En terwyl jy besig is, tel bietjie jou klere op wat in al 3 die badkamers le EN in ons kamer. Dan ook jou papiere en gemors wat al 2 weke in my bakkie le, kan jy asb plan maak daarmee..." DIT het alles op dowe ore geval. Vanoggend is hy werk toe, ek het vir seuntjie vir sy tweede rondte in die bed gaan sit en swartsakke gaan haal. Want sien, as hy nie wil hoor nie, moet ek plan maak! Na AGT swartsakke vol klere, skoene en ander items, voel ek beter. Hy het defnitief nou minder wat rond kan le, en ons doen 'n goeie daad. Hy gaan in elk geval nie meer pas in sy "HOOFSEUN STOEI" klere nie, en daai t-hempies wat in St.3 (hy's die jaar 31 gewees...) laas vir hom gepas het met "Ek is lief vir my mamma" voor op die bors (en wat so vol klein gaatjies is, dit lyk of hy geskiet is...) moes ook gaan! En kan iemand asb vir my verduidelik hoekom hy 49 pette/hoedjies moet he. Daar is 20 oor....Ander mense hou ook nie van die son in hul oe nie, so ons deel met hulle...
Wat my by my volgende punt bring. Ek is dankbaar dat ons het om met ander te kan deel. Ek het die naweek 'n program gesien van Solidariteit se Helpende Hand organisasie. Hulle fokus veral op arm wit mense. Net daar het ek op my kniee gegaan en dankie gese vir dit wat ons het. 'n Dak oor ons koppe, kos op die tafel, gesondheid, 'n gelukkig huwelik, 'n pragtige gesonde seuntjie, vriende, familie.....die lys gaan nog aan en aan. Al die goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar is vir ander mense 'n noodsaaklikheid. Ek het sommer 'n paar handsakke en lipstiffies (wat nog nooit eers oopgemaak is) in die sak gesit. Elke vrou hou mos van 'n mooi handsak en 'n bietjie kleur op haar lippe. En net more gaan ek kos en lekkers koop. Dis mos amper Kersfees, 'n tyd van familie, vriende, geluk, liefde, samesyn en natuurlik lekker kos. Mag ons almal dankbaar wees dat ons het, en dat ons kan deel met ander...
Smartie2 hier...ek stem saam, dankbaarheid is een van die mees under-rated gevoelens wat heeltemal te min in ons lewens seevier! Ek is ook dankbaar vir `n vriendin soos jy wat alles waartoe ek in staat is, soos peanuts laat lyk...dis nou alles met betrekking tot bitchiness(is daar so woord?) en eerlikheid!!! Pretentious bestaan nie in ons woordeskat, what a lot we got!!!
ReplyDelete