About Me

No artificial comments...colourfull yet honest...funny yet unpretentious!

Monday, November 22, 2010

Nog 'n generasie, nog 'n dooprok, nog `n kerkhoed....en `n Land Rover chino..smartie2

Ons engeltjie, ja sy was `n regte engeltjie, meer as gewoonlik....was Sondag 14 November toegewy. Ek het lank gewag vir hierdie dag, want `n hoed wou ek dra!

So, 'n paar weke voor die toewyding, sit ek, manlief en die kiddies toe af Jozi toe, opsoek na `n hoed vir my, wel eintlik was ek opsoek na `n hoed, Fanie het maar net saam gegaan om die spreekwoordelike vrede te bewaar. Ek het `n maand of wat gelede die mooiste hoedens in Cresta gesien, so dit word toe ons eindbestemming!

"Needless to say", manlief is glad nie gelukkig met die idee nie en het al menig male vir my vertel dat hy niks nader as 10m van my gaan af loop nie.....mens dra mos nie meer hoedens kerk toe nie!!!! Sy ydele dreigemente het maar net op dowe ore geval. Naderhand het dit nie meer so veel gegaan oor die feit dat ek graag `n hoed na my enigste dogtertjie se doop wou dra nie, maar ek het dit meer gedoen om `n punt te bewys...jip, daar maak die bitchy self haar verskyning!

Na, wat nie langer gevoel het as 10min nie, het ek my hoed, in `n sak....wat het geword van mooi hoede bokse? Vir `n man wat hom dood skaam vir sy vrou wat `n hoed koop, is hy maar ekstra versigtig met waar die hoed vervoer word, aan die regter handvatsel van die pram, met niks ander pakkies naby dit nie, en hy sal die waentjie stoot! Heeltyd wonder ek hoekom hy so versigtig is....all shall be revealed!

Die toewyding kaartjies is uit, SJ se nuwe hempie is gekoop, my pakkie uit sy droogskoonmaak sak gehaal en Fanie, wel ek weet nie eintlik wat hy gaan aantrek nie??? So laat ek hom al sy langbroeke aanpas, die enigste 3 moontlik wat hy kerk toe kan aantrek, is myle te lank! Ek neem dit toe na my naaldwerkster (ek weet nie hoekom nie, maar as jy naaldwerk na my rigting wys, trek my handjies so krom en my hele brein sluit af, o ja, met strykwerk ook....ughhhh). Fanie het toe `n broek saam gegee wat hy mooi vir my vertel het die voorbeeld is, so gemaak so gedaan, die 3 broeke word herstel om dieselfde lengte te wees as die voorbeeld. Die voorbeeld sal hy ongelukkig nie kan dra, want die se ritsluiter is geneig om oop nie gaan, nie baie kosher vir die kerk nie, besluit ek! Om `n lang storie kort te maak, die 3 broeke is toe nog heeltemal te lank, hoewel ek dit op die bed uitle en vir hom wys dat hulle net so lank is soos die voorbeeld, kon nie een van ons 2 verstaan, so pas hy dit toe aan, eureka, die voorbeeld kom op sy middel vas en die ander 3 op sy heupe. Dit kos ons om een Sondag voor die toewyding na die tannie toe te gaan sodat sy hulle aan hom kan pas. Het ek genoem dat die een chino wat hy wil aantrek, `n Land Rover broek is..... so dis hoekom hy so versigtig was met my hoed, nie omdat hy regtig omgegee het nie, maar omdat hy my wou sag maak, sodat hy sy landy broek kan aantrek....ek gee nie eintlik om nie, maar besluit om die nogmaals as leverage te gebruik.. Ek sit buite in die kar, terwyl my super skaam man in die tannie se woonstel gaan om die broeke aan te pas. Ek sou die broeke toe later die week weer gaan optel.

Ek het my dooprok, so 3 jaar gelede by my ouer sus, sy het haar dooprok aangebied om ons kinders in te doop, toe ek dit later by die huis van die hanger af haal, raai raai, ontdek ek my eie dooprok onder hare. Wel, ek het gedreig om die seuntjie daarin te doop, maar ek glo tot vandag toe, my man sou my skei as ek die mannetjie in `n rok gedoop het! Nie net het manlief hard, vreeslik hard gebid dat die 2de `n eva sou wees vir die simpel rede dat ek wou aanhou probeer het tot ons `n ou dogtertjie sou he nie, maar ook dat hy nie die gedagte kon sluk dat een van sy eie seuntjies in `n rok sou gedoop word nie...gelukkig vir hom!

Ek het wel besluit dat ek my ou rokkie bietjie nuwe lewe sou inblaas, deur `n ekstra stukkie kant onder te LAAT aanwerk en ek dan 2 blommetjies sou maak, een vir haar kopband en een vir die rokkie. Die amper 30jaar oue dooprok hang toe sy hang teen die feetjie se kas, en wag in groot spanning dat iemand hom gaan stryk.... Ek, slimmer as almal, vra versigtig vir Elizabeth (my stryker hande) of sy dit nie asseblief kan stryk nie, met die paniek wat 10 voet diep in haar oe le, besef ek met eens, hierdie een gaan ek moet oorwin...Ek los dit wel tot op die laaste en pak dit die middag voor die doop aan, terwyl die mans rugby kyk, staan ek en skoonsus in die waskamer en loer bo-oor die rok vir mekaar. Eers sit ek die yster baie koud, maar aai die kreukels word nie eers minder nie. So stel ek die yster al hoe warmer, uiteindelik totdat hy op sy warmste is, toe verdwyn die kreukels met eens en haar rokkie is beeldskoon!

Kom Sondag van die toewyding met `n huis wat uit sy nate bars van bedrywighede, manlief wat die terroris moet aantrek en Kari moet besig hou tot ek haar heel laaste kan aantrek, raak ek rustig en dank die Hand van Bo wat hierdie hele koekmengsel eintlik gemeng het en ons dit nou gaan bak. So is almal aangetrek, ek ingesluit met my hoed en al, wag ons net vir Fanie....wat heeltemal te stil raak in die kamer...daar aangekom gewaar ek die broeke wat die hele kamer vol le, al 3 van hulle nou te kort, whahahahaha (evil lag), so, my ou sparky moes uiteindelik die broek aantrek wat ritsluiter so nou en dan oopgaan, "pause for effect" whahahaha..

Soos almal, my ingesluit, vermoed het, spring oe uit hul oogkaste toe ons die kerk se onthaal area binnestap, nie oor manlief se broek of Kari se dooprok, maar oor my hoed! Nog nooit het ek so trots gevoel soos op daardie stadium, en ek het daai hoed met styl gedra, boude in magie in en borsie uit soos `n kappok haantjie! Die jonger geslagte kon dit nie verstaan, maar die ouer tannies het met "envy" na my geloer oor hul brille, waar is die dae wat hul in hul fleur `n pragtige hoed kon dra? Ek het afgunstige kyke van dametjies my ouderdom gekry, maar vet glimlagge van die ouer anties! In hul oe kon ek sien wat in hul gedagtes aangaan, daai ou hoedebokse gaan agter uit die kaste uit gekrap en afgestof word en die hoede gaan heel week ge-"parade" word vir mans, kinders, kleinkinders en sommer net enige iemand wat vir hulle die "time of day" gee!

Met `n opgewondenheid in my siel, my feetjie in my arms, my man, wag vir dit...styf aan my sy en die terroris wat in die waentjie aan die slaap geraak het (dankie Liewe Jesus vir daai een), stap ek toe met `n lied in my hart daai verhoog op, wy my dogtertjie toe aan die Here en sy Grootheid en se dankie vir elke gawe wat ek het. Die gawe om 'n geslag later, my geskenkie op te dra aan God in my eie dooprok, om die wonderlikste man op aarde te he, die gawe vir fantastiese kindertjies en die gawe om my hoed te kon dra, sonder `n enkele ons skaamte!!!

Soos `n regte engeltjie, word sy ook net wakker, en lag met daai oop bekkie van haar so mooi vir die pastoor, dat hy met sy gebed ophou en vir die hele gemeente vertel van hierdie gesiggie wat so vriendelik is met hom!

Ek het nog nooit so naby aan God gevoel, soos op daardie oomblik nie!

1 comment:

  1. Hoe wens ek nou daar was n ou foto'tjie van daai hoed en die 30jaar oue rokkie....

    ReplyDelete