My Vrydag het wonderlik begin....het die lieflikste kaartjie vanaf manlief gekry (nie so seer die mop gesig hondjie op die buitekant nie, maar die handgeskrewe boodskap....jy weet hoe jy soms `n kaartjie kry wat volgeskryf of gedruk is binnekant, maar wat eintlik inhoudloos is???) Wel hierdie een was net die teenoorgestelde, ek was nie seker of ek my man (A) eers `n vet klap moet gee omdat hy dit nie elke dag se of wys nie en of ek (B) hom moes opsoen nie...o ja, saam met `n GROOT bottel DKNY parfuum, my favourite, wat natuurlik net tot volgende jaar moedersdag gaan hou.....
Dan is daar nog `n kaartjie...vanaf my suigelinge, wat iets lees soos die: "ons het ons geldjies bymekaar gesit en mamma kan vir jou `n Blackberry gaan koop" buiten vir die feit dat hulle natuurlik nog nie eers kan praat nie (seuntjie 2jr en baie lui om te praat maar ek los daai een vir `n ander dag, want vir so `n wonderlike skepseltjie het ek `n hele hoofstuk, of eintlik `n hele boek nodig om hom voor te stel) weet ek die eintlike rede hoekom ek WEER `n Blackberry kry...manlief wil my van sy laptop afhou, ja die einste een wat ge-"crash" het laas toe ek besig was op hom!!!!
Toe my man uitstap by die voordeur, spoel daai gevoel van absolute tevredenheid oor my, later met die 2 bondeltjies gelyktydig op my skoot, besef ek, my beker loop waarlik oor! Meer as dit, en natuurlik my Skepper, het ek nie nodig nie. Soveel keer kla `n mens met die witbrood onder die arm....ja jy ook, erken dit maar...dat mens dikwels die klein en mees betekenisvolste wonderwerke rondom jou miskyk!!!
Wonderwerke soos gesondheid....
Later die aand gaan kry ons lekker sushi...take-aways let wel, kan mos nie meer op `n ander plek as die Spur gaan sit en een nie, waar SJ se nanny die videogames kamer is of die speelplek buite! Terug by die huis maak ons `n groot familie-bed en kyk dvd's terwyl die soet smake van sushi my smaak sintuig oorweldig! O ja, SJ eet nie sy vis en skyfies nie, nee, hy eet mamma se sushi! So raak ons almal aan die slaap, net daar voor die televisie en omdat dit my verjaarsdag is, bied manlief aan om op te staan, sou Kari wakker word deur die aand.
Later die aand en in die vroee oggendure, begin al die sports....Fanie het vreeslik pyn, soos in vreeslik, ek is nog dronk van al die sushi en luister nie juis as hy by my kla nie, dis mos sy beurt om na Kari te kyk! Toe ek opstaan Saterdag oggend en die pyn in sy oe sien, besef ek met eens, hierdie is nie net `n pleit om nanny-duty vry te spring nie, o nee, hierdie is ware pyn. Later toe hy vra ek moet hom asseblief dokter toe vat, weet ek, daar is groot fout! Met die kinders op `n streep 1 en 2, doeksak oor my skouer, mediesefonds kaart styf in my hand en manlief agterna, storm ons my ongevalle in, daar is mos nie `n dokter op Secunda wat my voor 10 op `n Saterdag kan help nie....
Eens in ongevalle, na al die papierwerk voltooi is, raak ek bekommerd....so iets wat so belangrik is soos die liefde in my lewe, neem ek dikwels as van selfsprekend aan! Terwyl hy agterbly in ongevalle, vat ek en die kids gou die dvd's terug. Kry later `n sms dat ek hom kan kom haal. Terug in die kar wil ek mos toe alles weet en dit kom toe iets soos dit uit: "dokter se dat dit moontlik `n infeksie in die blaas/niere is, maar die bakterie telling is ongewoon hoog, dit mag dalk die groot "K" wees ons moet uroloog gaan sien en vir dit laat toets" nie " hier is `n uroloog se nr. gaan na hom vir verdere toetse" nie, nee sommer net so "dit kan dalk kanker......ek hoor nie eers meer verder nie.
Voel of iemand my hande en voete gelyktydig afgekap het, ek wat gewoonlik in beheer van alles en almal rondom my is voel leeg en alleen....wel om `n lang storie kort te maak, nadat ek myself in `n ander bloedgroep in bekommer het die hele naweek tot gister, bevestig uroloog dat dit wel net `n erge infeksie is, maar....hoekom is daar altyd `n maar? Maar sou die simptome terug kom binne die volgende 2 weke moet ons hom dadelik weer kom sien vir verdere toetse, want dit is eintlik ongewoon vir 'n man van Fanie se ouderdom om dit so erg te kry.....
Jip, daar is daai saadjie van onsekerheid weer terug.....maar die keer gaan ek nie dat dit ons almal regeer nie, want daar is net een Hand wat ons regeer, en met Hom aan ons kant kan niks teen ons wees nie!!!
So, gisteraand gedurende my stiltetyd, vat ek my skerpste mes en kap daai saadjie se kop af met gebed!
No comments:
Post a Comment