About Me

No artificial comments...colourfull yet honest...funny yet unpretentious!

Tuesday, December 21, 2010

Die tyd van die jaar

Ek weet nie of dit by julle ook so mal gaan die tyd van die jaar nie.  Mens los mos alles tot jy skielik een middag voor die tv gaan sit, en jy sien 'n Kersfees-advertensie!  Dan skrik jy jou vrek en besef dis al 11 Desember, en nog NIKS is gedoen nie.  Ons het op die nippertjie besluit om bietjie Kaap toe te gaan, so ek moes vinnig vlugte bespreek, kar bespreek, verblyf soek en net toe ek dink alles is klaar gereel, toe onthou ek ons het 'n 5maande oue baba.  SO, 'n kot, stootkarretjie, karstoeltjie en 'n VRAG doeke, klere, bottels en melk moet saam.  Dan praat ek nie eers van sy speelgoed wat hy so mal oor is....

Deur die gejaag, onthou ek ek moet nog die doop ook reel....Maar dis 'n storie vir 'n ander keer.  My ousie word siek, ek stuur haar om by die huis gesond te gaan word.  Ek wil nie met 'n siek gesin by die see sit!  En so moet ek klere was (ek het laas 'n wasmasjien gebruik in 2002).  So gaan staan ek voor die masjien en wonder waar die "manual" is....Ons het in Julie getrek en sekere goed het in daai bokse gebly, die "manual" ingesluit!  Ek moes toe maar my ousie bel om te hoor hoe werk die ding.  Na die 4e bondel klere toe besluit ek ek gaan eerder die kombuis aanpak!  Vanoggend (2 oggende later) is daar 'n klop aan die deur.  Dis my ousie.  Felicity, as ek nie my plek geken het nie, het ek jou om die hals geval en jou gesoen.  SO bly was ek om jou te sien.  (Ek kan al my bure hoor as hulle sien ek soen my ousie.....)

Smarty 2 is klaar met vakansie en ons gaan more op vakansie.  Ons wil julle 'n baie GESEENDE KERSFEES toewens en dat julle sal onthou waaroor die tyd van die jaar eintlik gaan.  Dat ons dankie sal se vir al die seen wat ons die afgelope jaar ontvang het.  Julle moet julle vakansie geniet, en kom veilig terug!  Vir die wat werk, julle beurt vir vakansie is om die draai!  Mag 2011 vir julle 'n geseende en voorspoedige jaar wees, 'n jaar vol geluk, liefde en gesondheid (en dalk 'n paar rand ekstra in die bank om 'n handsak of skoene te shop)

Tuesday, November 30, 2010

Ka-ching......cash is king..... Smartie 2

Ek het `n kleintjie-dood in daardie se-ding!!!!! Nee, letterlik, as ek dink aan die persoon wat dit gese het, dan dink ek aan die fliek "Killers", en wil ek opsluit Kaap toe om haar met die vuis te gaan slaan....

Ontspan, ek sal dit darem nie regtig doen nie....however, the thought has crossed my mind, once or twice....

In elk geval, GELD is die euwel van alles negatief in ons samelewing en veral in ons land, as dit nie ou Selebi is wat geld vat as omkoop middel, let wel, NIE betaalmiddel NIE, dan staan die minister van finansies en sinspeel dat die belasting betaler nog een persent meer moet betaal vir die SAUK....ek bid jou aan...die SAUK wat sit waar hy sit as gevolg van GELD-elike probleme!!! Dit laat my dink aan die volgende (verskoon my frans) "Die wet van Transvaal, k__k en betaal"

My punt wat ek wil maak is egter ietwat deurmekaar, maar ek wil net graag bewys dat alle euwel terug gevolg kan word na GELD!

As 'n seks-verslaafde ma nie 2 "nigerians" betaal om haar katelknapie uit die pad te vat nie, dan word jou besittings, en partykeer jou lewe, geneem, om kos op `n ander tafel te sit, weens, lets face it, GELD!

Graag wil ek aan elke breindood en gewetenlose skelm probeer verduidelik: God het GELD op die aarde gesit as betaal middel vir `n diens gelewer, nie om jou selfsugtige neigings te bevredig nie!!! Ja, nou hoor ek weer `n klomp teen antwoorde: Ja, maar hy (of sy) sou nie steel as dit nie was dat hy (of sy) hul familie moet onderhou nie en dat hy (of sy) juis nou in die ressessie hul werk verloor het nie! Ek weet dis maklik vir my om te se dat ek nooit maar nooit sal bedel of steel nie, en eerder `n ou "peace-job" sal doen, maar ek glo vas: "gee nie om waar jy vandaan kom nie of wat jou opleiding is nie, elke persoon het dit in hom om `n beter persoon te wees en eerder te werk vir betaling as om dit verniet te wil het of om dit verniet te wil vat..."

Dis makliker om te steel as om `n kar te was.....dis makliker om te moor as om jou eie groente te plant...dis makliker om omkoop GELD te aanvaar as om jou lewens standaard te verlaag....so kan ek aangaan tot die perde horings kry!!!

Diewe, onthou asseblief, veral gedurende die Desember, wanneer julle vreeslik geneig is om te dink dat `n lee huis carte blanche is om jou geld sakke vol te maak, dat die wereld se geld jou nie `n kaartjie hemel toe kan koop nie, o nee, sparky...jy gaan met `n donkie kar die poorte van die hel binne ry, brand gaan jy brand, stadig maar seker!!!

GELD is `n euwel!!!

Die konklusie waartoe ek gekom het is egter: "Do you want world peace??? Burn all the money in the world"

Ek weet dit klink kras en onmoontlik, maar ek kan seker droom van `n hedendaagse eutopia....

...maar vir tyd en wyl, draai ek my sentjies 37 keer om, ek betaal die tannie wat na my kar kyk en ek gee my 10de! Ek sal wel bid vir die bedelaar of dief, want dit is wat ons as christene onderskei van Satan te volgelinge! Ons neem ander mense se gevoelens in ag en probeer om nie ons lewens rondom geld te bou nie, maar eerder rondom vrede!!!

GELD is nie ons koning nie, maar God is wel die Koning van ons lewens!!! (en wat van "cash is king" wel hy is met `n vuishou uitgeslaan...)

Monday, November 22, 2010

Nog 'n generasie, nog 'n dooprok, nog `n kerkhoed....en `n Land Rover chino..smartie2

Ons engeltjie, ja sy was `n regte engeltjie, meer as gewoonlik....was Sondag 14 November toegewy. Ek het lank gewag vir hierdie dag, want `n hoed wou ek dra!

So, 'n paar weke voor die toewyding, sit ek, manlief en die kiddies toe af Jozi toe, opsoek na `n hoed vir my, wel eintlik was ek opsoek na `n hoed, Fanie het maar net saam gegaan om die spreekwoordelike vrede te bewaar. Ek het `n maand of wat gelede die mooiste hoedens in Cresta gesien, so dit word toe ons eindbestemming!

"Needless to say", manlief is glad nie gelukkig met die idee nie en het al menig male vir my vertel dat hy niks nader as 10m van my gaan af loop nie.....mens dra mos nie meer hoedens kerk toe nie!!!! Sy ydele dreigemente het maar net op dowe ore geval. Naderhand het dit nie meer so veel gegaan oor die feit dat ek graag `n hoed na my enigste dogtertjie se doop wou dra nie, maar ek het dit meer gedoen om `n punt te bewys...jip, daar maak die bitchy self haar verskyning!

Na, wat nie langer gevoel het as 10min nie, het ek my hoed, in `n sak....wat het geword van mooi hoede bokse? Vir `n man wat hom dood skaam vir sy vrou wat `n hoed koop, is hy maar ekstra versigtig met waar die hoed vervoer word, aan die regter handvatsel van die pram, met niks ander pakkies naby dit nie, en hy sal die waentjie stoot! Heeltyd wonder ek hoekom hy so versigtig is....all shall be revealed!

Die toewyding kaartjies is uit, SJ se nuwe hempie is gekoop, my pakkie uit sy droogskoonmaak sak gehaal en Fanie, wel ek weet nie eintlik wat hy gaan aantrek nie??? So laat ek hom al sy langbroeke aanpas, die enigste 3 moontlik wat hy kerk toe kan aantrek, is myle te lank! Ek neem dit toe na my naaldwerkster (ek weet nie hoekom nie, maar as jy naaldwerk na my rigting wys, trek my handjies so krom en my hele brein sluit af, o ja, met strykwerk ook....ughhhh). Fanie het toe `n broek saam gegee wat hy mooi vir my vertel het die voorbeeld is, so gemaak so gedaan, die 3 broeke word herstel om dieselfde lengte te wees as die voorbeeld. Die voorbeeld sal hy ongelukkig nie kan dra, want die se ritsluiter is geneig om oop nie gaan, nie baie kosher vir die kerk nie, besluit ek! Om `n lang storie kort te maak, die 3 broeke is toe nog heeltemal te lank, hoewel ek dit op die bed uitle en vir hom wys dat hulle net so lank is soos die voorbeeld, kon nie een van ons 2 verstaan, so pas hy dit toe aan, eureka, die voorbeeld kom op sy middel vas en die ander 3 op sy heupe. Dit kos ons om een Sondag voor die toewyding na die tannie toe te gaan sodat sy hulle aan hom kan pas. Het ek genoem dat die een chino wat hy wil aantrek, `n Land Rover broek is..... so dis hoekom hy so versigtig was met my hoed, nie omdat hy regtig omgegee het nie, maar omdat hy my wou sag maak, sodat hy sy landy broek kan aantrek....ek gee nie eintlik om nie, maar besluit om die nogmaals as leverage te gebruik.. Ek sit buite in die kar, terwyl my super skaam man in die tannie se woonstel gaan om die broeke aan te pas. Ek sou die broeke toe later die week weer gaan optel.

Ek het my dooprok, so 3 jaar gelede by my ouer sus, sy het haar dooprok aangebied om ons kinders in te doop, toe ek dit later by die huis van die hanger af haal, raai raai, ontdek ek my eie dooprok onder hare. Wel, ek het gedreig om die seuntjie daarin te doop, maar ek glo tot vandag toe, my man sou my skei as ek die mannetjie in `n rok gedoop het! Nie net het manlief hard, vreeslik hard gebid dat die 2de `n eva sou wees vir die simpel rede dat ek wou aanhou probeer het tot ons `n ou dogtertjie sou he nie, maar ook dat hy nie die gedagte kon sluk dat een van sy eie seuntjies in `n rok sou gedoop word nie...gelukkig vir hom!

Ek het wel besluit dat ek my ou rokkie bietjie nuwe lewe sou inblaas, deur `n ekstra stukkie kant onder te LAAT aanwerk en ek dan 2 blommetjies sou maak, een vir haar kopband en een vir die rokkie. Die amper 30jaar oue dooprok hang toe sy hang teen die feetjie se kas, en wag in groot spanning dat iemand hom gaan stryk.... Ek, slimmer as almal, vra versigtig vir Elizabeth (my stryker hande) of sy dit nie asseblief kan stryk nie, met die paniek wat 10 voet diep in haar oe le, besef ek met eens, hierdie een gaan ek moet oorwin...Ek los dit wel tot op die laaste en pak dit die middag voor die doop aan, terwyl die mans rugby kyk, staan ek en skoonsus in die waskamer en loer bo-oor die rok vir mekaar. Eers sit ek die yster baie koud, maar aai die kreukels word nie eers minder nie. So stel ek die yster al hoe warmer, uiteindelik totdat hy op sy warmste is, toe verdwyn die kreukels met eens en haar rokkie is beeldskoon!

Kom Sondag van die toewyding met `n huis wat uit sy nate bars van bedrywighede, manlief wat die terroris moet aantrek en Kari moet besig hou tot ek haar heel laaste kan aantrek, raak ek rustig en dank die Hand van Bo wat hierdie hele koekmengsel eintlik gemeng het en ons dit nou gaan bak. So is almal aangetrek, ek ingesluit met my hoed en al, wag ons net vir Fanie....wat heeltemal te stil raak in die kamer...daar aangekom gewaar ek die broeke wat die hele kamer vol le, al 3 van hulle nou te kort, whahahahaha (evil lag), so, my ou sparky moes uiteindelik die broek aantrek wat ritsluiter so nou en dan oopgaan, "pause for effect" whahahaha..

Soos almal, my ingesluit, vermoed het, spring oe uit hul oogkaste toe ons die kerk se onthaal area binnestap, nie oor manlief se broek of Kari se dooprok, maar oor my hoed! Nog nooit het ek so trots gevoel soos op daardie stadium, en ek het daai hoed met styl gedra, boude in magie in en borsie uit soos `n kappok haantjie! Die jonger geslagte kon dit nie verstaan, maar die ouer tannies het met "envy" na my geloer oor hul brille, waar is die dae wat hul in hul fleur `n pragtige hoed kon dra? Ek het afgunstige kyke van dametjies my ouderdom gekry, maar vet glimlagge van die ouer anties! In hul oe kon ek sien wat in hul gedagtes aangaan, daai ou hoedebokse gaan agter uit die kaste uit gekrap en afgestof word en die hoede gaan heel week ge-"parade" word vir mans, kinders, kleinkinders en sommer net enige iemand wat vir hulle die "time of day" gee!

Met `n opgewondenheid in my siel, my feetjie in my arms, my man, wag vir dit...styf aan my sy en die terroris wat in die waentjie aan die slaap geraak het (dankie Liewe Jesus vir daai een), stap ek toe met `n lied in my hart daai verhoog op, wy my dogtertjie toe aan die Here en sy Grootheid en se dankie vir elke gawe wat ek het. Die gawe om 'n geslag later, my geskenkie op te dra aan God in my eie dooprok, om die wonderlikste man op aarde te he, die gawe vir fantastiese kindertjies en die gawe om my hoed te kon dra, sonder `n enkele ons skaamte!!!

Soos `n regte engeltjie, word sy ook net wakker, en lag met daai oop bekkie van haar so mooi vir die pastoor, dat hy met sy gebed ophou en vir die hele gemeente vertel van hierdie gesiggie wat so vriendelik is met hom!

Ek het nog nooit so naby aan God gevoel, soos op daardie oomblik nie!

Monday, November 8, 2010

Dankbare Oorlog - Smarty1

Vandat ek gister wakker geword het, was ek lus vir "oorlog".  Toe ek eers deur die slaap oor my man se skoene val wat langs MY kant van die bed is, toe is ek eers wild!  My toonnael het na die episode gelyk soos 'n ruimtetuig wat "gelaunch" staan, reg om maan toe te gaan.  Nege ander is 'n pragtige helder oranje, die tiende een is....wel nie meer daar nie. 

Ons is vroeg op want ons gaan vir die eerste keer na ons seuntjie 3 maande terug gebore is, kerk toe.  NET toe alles gepak en gelaai is, hoor ek iets wat baie klink soos 'n naar baba....Om 'n lang storie kort te maak, die afkondigings is gedoen, die "praise en worship" is al vergete en die tiendes is opgeneem, toe stap ons by die VOORSTE deur in.  Ons ken nie die kerk nie, ek sou eers na die tyd sien daar is so sy-deurtjie waarby jy in kan glip.  Doeksak oor die skouer, baba in sy karstoeltjie en stootkarretjie....Dan praat ek nie eers van my handsak en Bybelsak wat ook deel van die GROOT TREK was nie...Gelukkig kry ons plek (die laaste 2 sitplekke) agter in die hoek, want sien, Pietersburg is 'n baie vrugbare plek kom ek toe agter...Daar is HORDES babas...(maar dis 'n storie vir 'n ander keer..) 

Dis ook toe dat die pastoor besluit hy gaan (LANK) bid.  Onder gebed word boetie wakker en besluit hy gesels saam.  Ek moet toe baie vinnig na 'n moederskamer gaan soek.  In die moederskamer kom sit 'n spul ander vrouens toe ook later.  Intussen kan jy die preek op gerieflike grootskerm tv's volg.  Die klank is nie so vars nie.  Dit klink soos my oupa se draadloos wat nie mooi op stasie is nie.  Sal die twee vrouens nie hier naby my 'n PIEKNIEK vir hul kinders uitpak, dit lyk soos "high-tea" by die Queen.  Hulle begin toe gesels oor die nuwe prentjies op hul kinders se "nappies".  Kan hulle nie sien die res van ons probeer die preek luister.  (Nou moet jy onthou, ek het lus vir oorlog op gestaan...)  Ek gryp toe later die doeksak en vra so ewe of hulle nie 'n huis het om by te kuier nie.  Hul was so "geskok" OF hulle kon die "oorlog" op my gesig sien, hulle het nie 'n woord na dit gepraat.  Piekniek is toe ook sommer opgepak...en ek het weer in die kerk gaan sit.

Na badtyd' later die aand, rig ek toe 'n vriendelike versoek aan my man (eintlik meer 'n ligte waarskuwing, want ek ken mos my plek...) "Liefie, sal jy asb jou skoene wat al die hele naweek langs my kant van die bed le, bietjie optel en in jou kas sit.  En terwyl jy besig is, tel bietjie jou klere op wat in al 3 die badkamers le EN in ons kamer.  Dan ook jou papiere en gemors wat al 2 weke in my bakkie le, kan jy asb plan maak daarmee..."  DIT het alles op dowe ore geval.  Vanoggend is hy werk toe, ek het vir seuntjie vir sy tweede rondte in die bed gaan sit en swartsakke gaan haal.  Want sien, as hy nie wil hoor nie, moet ek plan maak!  Na AGT swartsakke vol klere, skoene en ander items, voel ek beter.  Hy het defnitief nou minder wat rond kan le, en ons doen 'n goeie daad.  Hy gaan in elk geval nie meer pas in sy "HOOFSEUN STOEI" klere nie, en daai t-hempies wat in St.3 (hy's die jaar 31 gewees...) laas vir hom gepas het met "Ek is lief vir my mamma" voor op die bors (en wat so vol klein gaatjies is, dit lyk of hy geskiet is...) moes ook gaan!  En kan iemand asb vir my verduidelik hoekom hy 49 pette/hoedjies moet he.  Daar is 20 oor....Ander mense hou ook nie van die son in hul oe nie, so ons deel met hulle...

Wat my by my volgende punt bring.  Ek is dankbaar dat ons het om met ander te kan deel.  Ek het die naweek 'n program gesien van Solidariteit se Helpende Hand organisasie.  Hulle fokus veral op arm wit mense.  Net daar het ek op my kniee gegaan en dankie gese vir dit wat ons het.  'n Dak oor ons koppe, kos op die tafel, gesondheid, 'n gelukkig huwelik, 'n pragtige gesonde seuntjie, vriende, familie.....die lys gaan nog aan en aan.  Al die goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar is vir ander mense 'n noodsaaklikheid.  Ek het sommer 'n paar handsakke en lipstiffies (wat nog nooit eers oopgemaak is) in die sak gesit.  Elke vrou hou mos van 'n mooi handsak en 'n bietjie kleur op haar lippe.  En net more gaan ek kos en lekkers koop.  Dis mos amper Kersfees, 'n tyd van familie, vriende, geluk, liefde, samesyn en natuurlik lekker kos.  Mag ons almal dankbaar wees dat ons het, en dat ons kan deel met ander...

Wednesday, November 3, 2010

Saadjie van onsekerheid

My Vrydag het wonderlik begin....het die lieflikste kaartjie vanaf manlief gekry (nie so seer die mop gesig hondjie op die buitekant nie, maar die handgeskrewe boodskap....jy weet hoe jy soms `n kaartjie kry wat volgeskryf of gedruk is binnekant, maar wat eintlik inhoudloos is???) Wel hierdie een was net die teenoorgestelde, ek was nie seker of ek my man (A) eers `n vet klap moet gee omdat hy dit nie elke dag se of wys nie en of ek (B) hom moes opsoen nie...o ja, saam met `n GROOT bottel DKNY parfuum, my favourite, wat natuurlik net tot volgende jaar moedersdag gaan hou.....

Dan is daar nog `n kaartjie...vanaf my suigelinge, wat iets lees soos die: "ons het ons geldjies bymekaar gesit en mamma kan vir jou `n Blackberry gaan koop" buiten vir die feit dat hulle natuurlik nog nie eers kan praat nie (seuntjie 2jr en baie lui om te praat maar ek los daai een vir `n ander dag, want vir so `n wonderlike skepseltjie het ek `n hele hoofstuk, of eintlik `n hele boek nodig om hom voor te stel) weet ek die eintlike rede hoekom ek WEER `n Blackberry kry...manlief wil my van sy laptop afhou, ja die einste een wat ge-"crash" het laas toe ek besig was op hom!!!!

Toe my man uitstap by die voordeur, spoel daai gevoel van absolute tevredenheid oor my, later met die 2 bondeltjies gelyktydig op my skoot, besef ek, my beker loop waarlik oor! Meer as dit, en natuurlik my Skepper, het ek nie nodig nie. Soveel keer kla `n mens met die witbrood onder die arm....ja jy ook, erken dit maar...dat mens dikwels die klein en mees betekenisvolste wonderwerke rondom jou miskyk!!!

Wonderwerke soos gesondheid....

Later die aand gaan kry ons lekker sushi...take-aways let wel, kan mos nie meer op `n ander plek as die Spur gaan sit en een nie, waar SJ se nanny die videogames kamer is of die speelplek buite! Terug by die huis maak ons `n groot familie-bed en kyk dvd's terwyl die soet smake van  sushi my smaak sintuig oorweldig! O ja, SJ eet nie sy vis en skyfies nie, nee, hy eet mamma se sushi! So raak ons almal aan die slaap, net daar voor die televisie en omdat dit my verjaarsdag is, bied manlief aan om op te staan, sou Kari wakker word deur die aand.

Later die aand en in die vroee oggendure, begin al die sports....Fanie het vreeslik pyn, soos in vreeslik, ek is nog dronk van al die sushi en luister nie juis as hy by my kla nie, dis mos sy beurt om na Kari te kyk! Toe ek opstaan Saterdag oggend en die pyn in sy oe sien, besef ek met eens, hierdie is nie net `n pleit om nanny-duty vry te spring nie, o nee, hierdie is ware pyn. Later toe hy vra ek moet hom asseblief dokter toe vat, weet ek, daar is groot fout! Met die kinders op `n streep 1 en 2, doeksak oor my skouer, mediesefonds kaart styf in my hand en manlief agterna, storm ons my ongevalle in, daar is mos nie `n dokter op Secunda wat my voor 10 op `n Saterdag kan help nie....

Eens in ongevalle, na al die papierwerk voltooi is, raak ek bekommerd....so iets wat so belangrik is soos die liefde in my lewe, neem ek dikwels as van selfsprekend aan! Terwyl hy agterbly in ongevalle, vat ek en die kids gou die dvd's terug. Kry later `n sms dat ek hom kan kom haal. Terug in die kar wil ek mos toe alles weet en dit kom toe iets soos dit uit: "dokter se dat dit moontlik `n infeksie in die blaas/niere is, maar die bakterie telling is ongewoon hoog, dit mag dalk die groot "K" wees ons moet uroloog gaan sien en vir dit laat toets" nie " hier is `n uroloog se nr. gaan na hom vir verdere toetse" nie, nee sommer net so "dit kan dalk kanker......ek hoor nie eers meer verder nie.

Voel of iemand my hande en voete gelyktydig afgekap het, ek wat gewoonlik in beheer van alles en almal rondom my is voel leeg en alleen....wel om `n lang storie kort te maak, nadat ek myself in `n ander bloedgroep in bekommer het die hele naweek tot gister, bevestig uroloog dat dit wel net `n erge infeksie is, maar....hoekom is daar altyd `n maar? Maar sou die simptome terug kom binne die volgende 2 weke moet ons hom dadelik weer kom sien vir verdere toetse, want dit is eintlik ongewoon vir 'n man van Fanie se ouderdom om dit so erg te kry.....

Jip, daar is daai saadjie van onsekerheid weer terug.....maar die keer gaan ek nie dat dit ons almal regeer nie, want daar is net een Hand wat ons regeer, en met Hom aan ons kant kan niks teen ons wees nie!!!

So, gisteraand gedurende my stiltetyd, vat ek my skerpste mes en kap daai saadjie se kop af met gebed!

Monday, November 1, 2010

Die lyne op my lyf...

Laas week, Donderdag aand, is dit uiteindelik my beurt om te bad (het ek al genoem dat ons nuwe huis nie `n stort het nie...en dat ek lang hare het wat gereeld gewas moet word???), terwyl ek ewe trots in die bad le en dink aan die 7 kilogram wat ek al reeds verloor het (nog net 14 weg van my LV handsak...), sien ek dit...

Spinnekop webbe wat oral op my bo-bene voetpadjies loop...sug....ag wat, dis seker maar een van daai oorerflike geskenkies wat jy maar net moet liefhe, anders...anders... nee wat, ek het nou lank genoeg hier gele en is bang ek gewaar nog iets...oops te laat, die rekmerke op my maag vang dadelik my oog, dit was vir my `n aanduiding tydens my 2de swangerskap dat die moontlikheid groot was dat die bondeltjie `n dogtertjie sou wees, (het ek genoem dat ons nie met een van die swangerskappe voor die tyd geweet het wat die geslagte was nie?) hoe dan anders, ek het rekmerke wat ek nie met die mannetjie gehad het nie, en ja, ek het ge-"Palmers coacoa-butter" tot ek die coconut in my mond kon proe...hierdie ongewenste rekmerke wat hulle self kom tuismaak het hier op my maag, het Kari se naam diep ingekerf in elke streep!

Nee kyk, nou moet ek uitklim.... gryp my handdoek, maar die nare gevoel dat iemand vir my loer kon ek nie afskud en draai toe maar om....wat vroeer net `n sug was, verander in `n paniekerige smag na asem. Ja, in die lewensgrootte spieel agter my loer hul vir my en SJ se naam weergalm saggies uit elke grotjie uit, sy voorletters le versteek in elke gaatjie "haelskade" op my bobene...

My onwillekeurige kop kyk op...daar is donker blou-pers sirkels onder my oe....ek lyk soos `n raccoon...WANNEER HET EK DIT LAAT GEBEUR??? Hoewel ek weet dat dit deur my eie doen en late gebeur het, kry ek so `n "sneaky suspision" dat my man se naam daaraan gekoppel kan word, soos die korrupte tenders in die regering wat so onwettig DEUR die regerende party AAN die regerende party toegestaan word en ek is die blonde leier (sonder die botox, let wel) van die ondersoekende party wat agter die kap van die byl probeer kom....

Net daar en dan besluit ek, dit is nodig vir my om meer "my tyd" in `n dag uit te sit...die miljoen rand vraag is egter "WANNEER?" Wanneer, want van 5am wanneer ek manlief se broodjies maak, regdeur tot 10pm wanneer ek uiteindelik my kop neerle, is daar nie `n oomblik tyd vir myself nie. Die feit dat ek nie meer 'n "high paid corporate" is nie, en nie so 'n bydrae lewer tot die huishouding nie, voel dit soms of ek nie "mytyd" verdien nie...hoe nou gemaak?

NEE NEE NEE!!! Gee nie om hoe besig jy is nie, elke vrou verdien `n bietjie "mytyd" elke dag....al is dit net 20 min in `n lekker "bubblebath" bad!

...om die lyne op jou lyf te admireer en Dankie te se vir elke lieflike persoon wie se diep spore daarin te vinde is!!!!

Wednesday, October 20, 2010

Smartie2 - Vars idees, ligte humor en `n onblusbare gees...

...dis waarmee ons hierdie blog aandurf!!!

Vir maande wik en weeg ons, uiteindelik na `n lang lys trial en trebulations, wat tot by die maan en terug strek, het ons uiteindelik besluit: Die wereld, en veral ons land het bietjie humor en vars denkers nodig! So, as jy moeg is vir al die drama (hetsy dit op TV en in die koerante is, of van jou "skoonma" af kom), hierdie is die blog vir jou!!!

Ons sal alledaagse goetertjies bespreek, soos kinders wat nie wil deurslaap.....huweliks maats wat nie verstaan....lawwe uit-treksels uit ons dag se gebeure....die buurman se ganse wat jou 4am wakker gons... storieboek wat eenvoudig nie neergesit kon word nie...lip-lek-lekker resepte en nog vele meer!

So, lus vir verandering....word `n volgeling!!!

Vir die mans wat wonder:  "hoekom op dees aarde word ek na die blog genooi"...hint hint...miskien kom julle `n hanetreetjie nader om die eva-geslag te verstaan!!!

Bv. Sign outside Della Bovey`s home after her husband Grant, left her for Anthea Turner:
 " Husband and dog missing....reward for the dog" 


Geniet die blog!

Indien jy ook graag jou 2 sent wil byvoeg, word `n volgeling en "speak your mind"!

Ciao Bellas
(smartie2)